Bianca en Andisiwe op suksespad

Dit is duidelik dat prof Jonathan Jansen nie die Universiteit van die Oranje-Vrysaat (Kovsies) se fondse gemors het met die toekenning van volle studiebeurse aan Bianca de Koning en Andisiwe Wulana nie – twee oud-leerders van Gansbaai Academia.

Bianca was 2013 se Hoofmeisie, asook topkandidaat, terwyl Andisiwe 2014 se topkandidaat was. Altwee het vir die Junie/Julie vakansie huis toe gekom en heerlik gekuier. Bianca het haar 1ste jaar (2014) op universiteit vir die graad BSc Gedragsgenetika met 7 onderskeidings uit haar 12 modules geslaag.

Tydens ‘n gesprek met haar het sy beskeie bevestig dat dit net so goed met haar in haar 2de jaar gaan. Prof Jansen, wat Gansbaai Academia onlangs besoek het, het prontuit gesê Bianca is ‘n “darling” en sy is vir hom soos ‘n eie dogter. Bianca het gesê sy verruil haar tyd by Kovsies vir niks ter wêreld nie en praat met groot respek van prof Jansen en sê dat sy sekretaresse, Rhoda Grobler, vir haar soos ‘n ma geword het. Ongelukkig het Bianca, enkele dae na haar terugkeer na Bloemfontein, die hartseer nuus ontvang dat haar liefling-ouma, Beryl Pienaar van Gansbaai, oorlede is. Danksy ‘n borg vir haar vliegtuigkaartjie, kon Bianca wel die roudiens gister bywoon.

Ondanks vele pogings, kon Gansbaai Courant ongelukkig nie met Andisiwe in aanraking kom tydens haar besoek aan Gansbaai nie. Aldus Bianca gaan dit net so goed met Andisiwe in haar eerste jaar. Sy het vir B.com Rekeningkunde ingeskryf, aangesien sy ‘n kop vir syfers het. Altwee hierdie leerders het hul matriek onder moeilike persoonlike omstandighede met lof geslaag en daardeur gewys dat “omstandighede” nie noodwendig in die pad van sukses hoef te staan nie.

Tydens prof Jansen se besoek aan Gansbaai Academia, was sy eerste opmerking: “Dit is mos hoe ‘n skool in Suid-Afrika moet lyk!”

Bianca de Koning tydens haar onlangse besoek aan GansbaaiBianca de Koning tydens haar onlangse besoek aan Gansbaai
Close
Bianca de Koning tydens haar onlangse besoek aan Gansbaai
Andisiwe Wulana in haar matriekjaar (2014) in Gansbaai AcademiaAndisiwe Wulana in haar matriekjaar (2014) in Gansbaai Academia
Close
Andisiwe Wulana in haar matriekjaar (2014) in Gansbaai Academia
 

Comments are closed.